Sunday 29 April 2012

Vetkoek bak

Op een of ander kookprogram het hulle gister gewys hoe om vetkoek te bak. Hoe wens ek nie nou dat ons nooit die televisie aangeskakel het nie. Toe moes ek mos terug gedink aan ons kuiertjie by Kaneel se ma en hoe ongelooflik lekker haar vetkoek was.

Daarom het ek toe besluit om vir middagete vetkoek te maak. Ongelukkig is dit nou nie een van die disse wat baie in my ma se huis gemaak is nie. Dus het ek nie 'n resep nie en ook nie 'n benul hoe om 'n vetkoek te bak nie. Kaneel het toe 'n pakkie, met die naam vetkoekmix, by die naaste winkel gaan koop.

Ons het amper eers die deeg te slap wou aanmaak en met 'n lepel in die olie wou inskep - amper soos dumlings. Na ek ongeveer die helfde an die meel toe bygegooi het, het dit meer na deeg gelyk wat uitgerol kan word.

Halfuur laat staan om te reis, soos die pakkie sê. En toe begin ons bak.

Die eerste klomp het bitter klein, baksteen hard aan die buitekant en baie plat uigtekom. Hoe meer ek natuurlik vir Kaneel gesê het dat sy ma s'n nie so gelyk het nie - hoe meer het ek besef dat dit nie eintlik is wat 'n meisie vir haar verloofde of enige vrou vir haar man moet sê nie.

Kaneel het genoem dat die vetkoekiekies effens klein vir hom lyk en so het ons ons gesnyde deegblokkies bymekaar gevoeg. Die volgende batch wat uitgekom het, het gelyk soos een of ander Chineese snaakse vorm koekies. Met die eetslag het hierdie soos brood geproe.

Ek kan net dankbaar wees vir so goeie verloofde wat nooit wou kyk of die vetkoekies nie dalk 'n venster sal breek nie. Hy het net bly aanmoedig dat vetkoek bak 'n aanvoeling kort en dat ek dit nog sal ontwikkel. Gmp!

Saturday 28 April 2012

In die bed bly weer

Vanoggend toe ek wakker word en sien 'n koue front het ons getref het ek gedink dat 'n dag in die bed is wat die weermeester voorgestel het.

Ek het terug gedink hoe ek toe ek so bietjie jonger was op sulke dae geslaap het tot ten minste 12 uur toe. Lui, lui uit die bed opgetaan, deur die stort gespring en 'n sweetpak aangetrek het. Daarna op my dvd rak gaan kyk watter een ek lanklaas gekyk het en my dag verder op die bank deurgebring. As ek nie lus was vir 'n dvd nie, was dit 'n boek. En moet nie die pot tee vergeet nie.

Deesdae raak ek agt uur wakker en by half nege is my lyf moeg gelê en wil ek aan die gang kom. As ek eers op is, is daar nie keer nie. Dis koffie, kombuis, ontbyt, skoonmaak, rekenaar en die lysie raak net voller en voller.

Nou wonder ek - word mens minder lui hoe ouer jy word? Is daar sommige mense wat net lui is van natuur en lui sal bly? Gaan ek weer lui kan raak?


Wednesday 25 April 2012

Cato, die kat

Ons het seker so drie maande terug 'n kat aangeneem. Nie omdat ons wou nie, omdat die kat by ons huisie aangekom het en nooit weer gegaan het nie. Ons het wel die eienaar in die hande gekry, die het vir 'n maand belowe om haar te kom haal. Twee maande later het ons moed opgegee deur petshop toe te gaan vir 'n kosbak (kos het ons al van die eerste dag af gekoop), 'n bed (nie dat sy dit juis gebruik nie, sy verkies 'n dubbelbed), scratch post en Catnip.

Haar naam was eers Die Kat en toe Katto. Ons het haar Cato gedoop, dit klink tog soveel meer gesofistikeerd.




Tuesday 24 April 2012

Leer by die kinders


Ek het vandag besef wat een van my onderwyser  vriende bedoel het met sy stelling: " I teach children while I learn from them.

Twee o/12 dogters van my skool het deurgedring tot die tweede rondte van WP Netbal. Vandag het die twee dogters hulle harte uitgespeel en na elke keer wat hulle gespeel het, doodmoeg en sopnat lnags my kom sit. Ongelukkig het nie een van die meisies deurgegaan na die volgende rondte nie en my hart het vir beide gebloei.

Sommige meisies van die ander skole het in trane na hul ouers toe gehardloop.

Die twee'tjies, wat ek geat het, het egter terug gekom met die woorde:
" Miss, this trails are just like playing a match, you win or you loose."
                                        En:
"Miss, we are fortunate to have had this opportunity"

Dit gebeur baie dat ons iets nuuts aanpak en dinge nie uitwerk soos ons wou gehad het nie. Die reaksie wat volg is dat dit nie regverdig was nie, ek het al die moeite ingesit en niemand het dit gesien nie, ek is nie goed genoeg nie of waarom dit weer probeer.

Kan ons nie maar eerder dankbaar wees dat ons die geleentheid gehad het nie. Terugkyk en besef hoeveel ons daaruit gegroei en geleer het nie.

Ek dink aan die einde van die dag het die twee girls my laat besef ek moet elke geleentheid met albei hande vasgryp en  niks minder as my beste gee.

Monday 23 April 2012

Kaneel se verjaarsdag

Gister was my verloofde se verjaarsdag en amper amper was dit nie gevier nie.

Sien, ons het vroër in die maand vakansie gehou. Almal weet dat as jy vakansie hou, is mens mos in so 'n ontspanne bui dat nie jy nie eintlik besef of omgee hoeveel geld jy uitgee nie. Boonop het ons vir my aanstaande skoon familie gaan kuier en het my tas so ekstra kledingstukkie of twee nodig gehad.

Ons hoef nie eers terug te verlang het na ons studente dae nie, toe elke sent twee keer getel was en ons geroosterde toebroodjies met die skrykyster gemaak het nie. (Ons het nou a snackwicher). Ek het amper net genoeg geld gehad om sy present te koop en die res was vir die toedraai papier en kaartjie.

So het ons besluit om in te ry Stad toe, na die kultgroep - TRUTH -vir 'n koppie koffie. Daar aangekom was ons bederf met die Skotse Highlanders wat hul verjaarsdag gevier het by die kerk net oorkant die koffie shop. Daai Skotse mannetjies kan 'n drom so slaan dat jy hoendervleis kry en die bagpipes het vir die eerste keer vir my mooi geklink.

Kaneel is mal oor sterre, dus het ek oorgestel dat ons die planetorium gaan besoek. Hy was natuurlik gaande daaroor om te kon sien wat die Hubble teleskoop alles al afgeneem het. Ons kon ook deur die museum stap en vir my was die klomp aardse klippe effens meer interessant as die klippe daarbo.

Ons het terug gekom huistoe en gemaak asof ons piekniek hou met pizza en rooiwyn.

En vir minder as R100 het ons 'n wonderlike viering van sy verjaarsdag gehad.

Sunday 22 April 2012

Koffie kult

Ek het nooit gedink dat ek by 'n kult sal aansluit nie,
maar hulle se tog moet nooit die woord nooit gebruik nie.

As daar nou een iemand is wat versot, verlief en verslaaf is op koffie is dit ek. (Bygesê, ek het my verloofde ook nou al 'n trippel V gemaak). Die probleem met die trippel V's is dat dit bitter moeilik raak om 'n koffieshop  te kry wat ordentlike koffie maak.

Die koffie is of:
- bitter
-waterig
- 'n kombinasie van die bogenoemde.

Dis nou totdat ons TRUTH ontdek het.
Bietjie freaky, want dis in dieselfde gebou as die Preswich Memorial wat 'n gebou is waar hulle al die menslike beendere bewaar wat in die Kaapstad omgewing opgegrawe is.
Die koffie is wel BRILJANT. Ons het flat whites bestel. Die koffie was romerig, die bone was perfek gerooster  en bone was nie daarna gebrand of geskroei nie.
Alles wat in die winkel gebruik word, word ook op 'n manier herwin. Die skilletjies van die bone is te koop as kompos in jou tuin. Die goiingsakke waarin die bone was, kan jy ook koop. Ek het twee uitgesoek en gaan daarvan kussings maak.
Dis die enigste koffie shop wat my  in die stad gaan sien.

As jy 'n trippel V is, maak gerus 'n draai by Somersetstraat 1, maar wees bewus daarvan dat jy ook deel van die kultusgroep gaan raak.

Wat is die blog oor....

As jy gedink het speserye, malayse kerrie of dalk 'n snaakse soort pannekoek, moet jy maar weer raai.

Sien ek is - volgens die meerderheid mense op die planeet - nou geklasifiseerd as 'n ginger (gemmer). My verloofde is mal oor kaneel, so mal daaroor dat hy elke oggend 'n teelepel heuning en bekvol kaneel voor ontbyt eet. Nou is ons effens op track...

Gemmer en kaneel gee ook soveel geur in die kombuis en met my blog wil ek sommer net my geur van en vir die lewe met jou kan deel.